Afrikaans @ Maties

Hierdie webwerf is gekuif na Afrikaans@Maties. Skakel asseblief oor na http://afrikaansbymaties.blogspot.com/

Monday, July 5, 2010

Russel Botman: "Engels verdring Afrikaans nié by US "

Die Burger (25 Junie 2010)
Liesl Peyper skryf:

"Die Universiteit Stellenbosch (US) bied graadkursusse ook in Engels aan sodat hy uitgerekte hofsake kan vermy."
Dít was gister prof. Russel Botman, US-rektor, se onmiddellike antwoord toe hy by die Kaapse persklub oor Maties se taalbeleid uitgevra is.
Botman was gister die gasspreker by die Kaapse Persklub, waar hy uitgewei het oor die US se taalbeleid en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan.
’n Lid van die gehoor, mnr. Ken Andrew, ’n voormalige DA-LP, wou by Botman weet waarom die US hom genoop voel om kursusse “soos ingenieurswese” in Engels aan te bied.
“Daar ís dan universiteite, soos die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Wes-Kaapland, rondom Stellenbosch wat dié kursusse in Engels aanbied.”
Botman, wat sy woorde versigtig gekies het, het gesê studente en hul ouers sal Stellenbosch “vir baie lank in die hof besig hou” as die universiteit nie ook Engels as ’n onderrig-opsie bied nie.
“Hulle en hul ouers sal ons dagvaar. Die Grondwet sê ook die deure van onderrig moet (vir almal) oop wees. Dis ’n baie ernstige en moeilike regsvraagstuk.
“Ons het nog nie gesien dat iemand bereid is om dit (in ’n hof) te toets nie.
“Maar wil die universiteit hom vir so iets oopstel? ’n Mens wil nie graag hê die universiteit moet daardie beeld hê nie.”
In sy toespraak het hy deurgaans beklemtoon dat Afrikaans steeds die hoofonderrigtaal aan die US is en ontken dat Engels die stand van Afrikaans in die gedrang bring.
“Laat ek dit baie duidelik stel: Stellenbosch blý ’n universiteit waar Afrikaans die hoofonderrigtaal is, maar met blootstelling aan Engels óók in die leersituasie.”
Dit is die US se beleid om Afrikaans as akademiese taal in ’n “meertalige konteks” te ontwikkel, het Botman gesê.
Volgens hom kan Afrikaans slegs beskerm word as dit beskou word as ’n “taal tussen ander tale”.
“ ’n Soort linguistieke ubuntu, dus.”
Oor die kritiek wat die US moet verduur weens sy dubbelmedium-onderrig, het Botman gesê nie net ontvang hy sterk bewoorde briewe van Afrikaanssprekende ouers nie, maar ook van Engelssprekende ouers wat hom daarvan beskuldig dat hy bruin Engelssprekende studente wil verhoed om te verengels.
“Hulle sê ek wil Engelssprekende studente laat de-angliseer.”
Volgens Botman sal bruin studente wat verkies om in Engels onderrig te kry goed in ’n meertalige omgewing funksioneer.
“Ons móét voorsiening maak vir arm, bruin studente van die platteland. Navorsing van (prof. Lawrence) Schlemmer wys dat 75% van Wes-Kaapse bruin studente verkies om in Engels onderrig te kry,” het Botman bygevoeg.

Luister na 'n klankgreep van Russel Botman voor die Kaapse Persklub deur hier te klik.

Prof Lawrence Schlemmer ontken dat hy ooit bevind het dat 75% van Wes-Kaapse bruin studente verkies om in Engels onderrig te kry. Lees sy brief deur hier te klik.
Prof Botman antwoord hierop dat hy "buite konteks aangehaal is"; lees sy reaksie deur hier te klik. Wat presies die "buite konteks" is, verduidelik hy nie.
Nog briewe oor Botman se stelling dat die US Engelse kursusse aanbied "om uitgerekte hofsake te vermy" kan gelees word deur hier te klik.
"Dit kan nie US in hof laat beland" verduidelik nog 'n briefskrywer; lees sy brief deur hier te klik.


No comments:

Post a Comment