Afrikaans @ Maties

Hierdie webwerf is gekuif na Afrikaans@Maties. Skakel asseblief oor na http://afrikaansbymaties.blogspot.com/

Thursday, February 25, 2010

DIE T-OPSIONISTE, DIE OMSENDBRIEWE EN DIE MENINGSOPNAME


Lees ook wat Pieter Malan skryf in Rapport van 2010-02-28: Maties is nie onder 'n kalkoen uitgebroei

Op 11 Februarie word ’n e-pos versprei vanaf die e-posadres matiekieser@gmail.com; die e-pos is onderteken deur dr Edwin Hertzog, mnr Desmond Smith en mnr Gerhard van Niekerk.

Edwin Hertzog is ’n voormalige lid en voorsitter van die US Raad; dit was tydens sy voorsitterskap (met Gerhard van Niekerk as ondervoorsitter) dat die nou gediskrediteerde T-opsie in 2002 aan die US ingevoer is. Desmond Smith is ’n voormalige US Raadslid.

In die e-pos versoek hulle “dat bekwame, goed toegeruste persone wat die U.S. in al sy fasette doeltreffend kan dien, verkies sal word.” Daarmee kan niemand sekerlik fout vind nie.


WIE IS HULLE?


Edwin Hertzog het twee jaar gelede as Voorsitter van die US Raad uitgetree aan die einde van sy termyn; hy het, as Konvokasie-verkose raadslid, dit wyslik geag om homself nie weer verkiesbaar te stel in die daaropvolgende verkiesing van raadslede nie.

Gerhard van Niekerk het vier jaar gelede as sittende US Raadslid, destyds aangewys deur die Donateurskorps, in ’n kontroversiële herverkiesing ‘n groot onderspit gedelf teen mnr Jacko Maree. Hy is onmiddellik weer in die US Raad heraangestel “as verteenwoordiger” (sy eie woorde) van die Minister van Onderwys, en dien tans as Ondervooritter van die US Raad.

Desmond Smith het twee jaar gelede aan die einde van sy termyn uitgetree as US Raadslid aangewys deur die Konvokasie; in die daaropvolgende herverkiesing het hy die onderspit gedelf. Tans stel hy hom beskikbaar as kandidaat vir verkiesing deur die Donateurskorps (en het hy hom glo onttrek van die selfaangestelde Hertzog-goepie).

Al drie is erkende T-opsioniste.


MENINGSOPNAME


Op 19 Februarie 2010 word ’n verdere e-pos versprei deur matiekieser@gmail.com met die versoek om deel te neem aan een van twee meningsopnames, waaroor Hertzog self skryf: “Een van die redes waarom ons in goeie trou ‘n meningspeiling doen is juis om uit te vind wat mense se menings is. U word dus aangemoedig om aan die meningspeiling(s) deel te neem.”

Een van die vrae in die “annonieme” (sic) meningspeiling is: “Is dit die primêre taak van die universiteit om Afrikaans te red?”

Hierdie is ’n onsinnige vraag want niemand, maar niemand verwag van die US om Afrikaans te “red” nie, netsoos niemand verwag dat UCT Engels moet “red”, of die Sorbonne Frans moet “red” nie.

Hierna volg die ewe onlogiese vraag: “Indien ja, hoe kan dit gedoen word sonder risiko, bv. sonder om internasionale akkreditasie in gevaar te stel? ”

Internasionale akkreditasie was nog nooit in gevaar o.g.v. onderrigtaal nie – vra die Duitse, Franse, Italiaanse en vele anders-as-Engelstalige universiteite.

Ten slotte word gevra: “Wat is vir jou as oud-Matie die belangrikste:

  • “Akademiese statuur
  • “Afrikaans as eksklusiewe onderrigtaal
  • “’n Graad wat Internasionaal erken word”

Niemand vra dat die US “Afrikaans as eksklusiewe onderrigtaal” toepas nie. Kenners in die opstel van onsydige meningspeilings is eenparig van mening dat die meningsopname onwetenskaplik, onsinnig, amateuragtig en statisties totaal onbruikbaar is.

Die meningspeiling het opslae in die koerante veroorsaak en die volgende is o.a. daaroor berig:

“Proff. Hermann Giliomee en Christo Viljoen, uittredende raadslede, het beswaar teen die onwetenskaplikheid van die vraeboog en die gelaaide vrae gemaak.

“Volgens hulle is niemand ten gunste van Afrikaans as eksklusiewe onderrigtaal of verwag niemand van die US om "Afrikaans te red nie".

“Hulle sê om ten gunste van 'n volwaardige en vaste voorgraadse aanbod in Afrikaansmedium te wees, is nie strydig daarmee dat die US internasionale aansien verwerf of dat sy grade nie internasionaal erken word nie.

“Prof. Pieter Kapp, president van die konvokasie, meen die opname kan 'n verleentheid vir die US skep as oud-Maties dink dit word namens die universiteit onderneem, terwyl dit nie die geval is nie.

“Prof. Laurie McFarlaine, Pretorianer en oud-Matie wat voorheen by die Universiteit van Pretoria (UP) was, het gesê dit is die belang van studente dat hulle in Afrikaans moet kan studeer. "Dit is twak om te suggereer dat as hulle in Afrikaans onderrig word, hul opleiding minderwaardig sal wees en nie aan internasionale standaarde voldoen nie."

“Hy het gesê om in Afrikaans te wil studeer, beteken nie 'n mens is teen Engels of dat jy nie in Engels vaardig is nie.

“Dr. Danie Roos, afgetrede fisikus en vroeër verbonde aan die WNNR, meen dis absurd om te moet kies tussen akademiese statuur, Afrikaans as eksklusiewe onderrigtaal en 'n graad wat internasionaal erken word. "Die vrae is ongehoord en 'n subtiele armdraai-taktiek om te wil hê Afrikaans moet aan die US verdwyn."

“Dr. Bertie du Plessis, navorser van Pretoria en oud-Matie, meen 'n universiteit moet grade toeken wat enige plek ter wêreld erken word. "Afrikaans is nie 'n struikelblok om die ideaal te bereik nie. Inteendeel, dit gee mense 'n voorsprong bo die wat slegs in Engels oor hul vak dink”

Hertzog het erken dat die vraelys deur onafhanklike konsultante en kennisse van hom, naamlik Charmain Lines en Francois Baird, opgestel is, en sê: “Ons is wel daaroor ingelig en was gemaklik met die konsep.”

No comments:

Post a Comment